Vakansie in die see, son, sand en branders


Die volgende is die 2’de deel van `n  uittreksel uit die boekie ;Oesterbaai—Toe en Nou—1956 tot 2002’ wat in 2003 deur Mev. Mara Kemp geskryf en gepubliseer is. Dit is op die oomblik uit druk.

Vervolg...


RAMPE


Kaptein John Reid was in 1901 met die Cromartyshire, ‘n vragskip met 2 338 ton Skotse steenkool, op ‘n vaart na Algoabaai.  Toe die skip die hawe in Leids, Skotland, op 24 Junie 1901 verlaat het, was die weer perfek en die gehalte van die steenkool wat in die skeepsruim gestoor was, uitstekend.


Die skip was goed ingerig om die steenkool te dra en goed geventileer deur vier ventilators.  Die temperatuur is elke dag gemeet, maar toe die skip die ewenaar bereik het, is gevind dat dit tot 115° gestyg het.  Nadat die kaptein dit met sy offisiere bespreek het, is besluit om 50 - 100 ton steenkool oorboord te gooi.  Die Cromartyshire het veilig om die Kaap gevaar tot by Plettenbergbaai.


Die Woensdag-nag het die temperatuur van die steenkool nog 115° gemeet.  Die Donderdag-oggend het dit egter skerp gestyg tot 170° en rook het uit die stoorruimtes getrek.  Vrydag was die skip omtrent 15 myl van die naaste kus.  Die kaptein het probeer om Cape St Francis te bereik, maar ‘n stormwind het gewoed en hulle kon geen vordering maak nie.  Kaptein Reid het opdrag gegee om terug te vaar na Plettenbergbaai, maar voordat hulle kon omdraai, was die wind stil en die see kalm.

Later het ‘n ligte wind gewaai, maar alle pogings om na Cape St Francis te vaar, was tevergeefs.  Die twee offisiere wat die situasie moes monitor, het nou op die dek gelê – oorval deur die rook en gasse.  Noodseine is uitgestuur, maar sonder sukses.  Hul situasie was haglik en as gevolg van die intense hitte was die kajuite ontoeganklik.  Vroeg die Saterdag-oggend het die bemanning die reddingsbote laat sak en die skip verlaat.

Om 7 uur die aand is die temperatuur die laaste keer gemeet.  Op dié stadium het dit tot 210° gestyg.  Rook het by die lugtoevoer en al die luike uitgeborrel en die hitte was intens.

Eenstemmigheid is bereik om Cape St Francis in die drie reddingsbote te probeer bereik.  Kaptein Reid, tesame met 9 bemanningslede, was in een boot.  Hulle het om die beurt geroei, maar ‘n kuswind het gewaai en min vordering is gemaak.  Om middernag het die wind sterker gewaai en die see was rof, met die gevolg dat die bote van mekaar geskei is.  Volgens die beskrywing van een van die bemanning, het hulle ‘n lang rif met ‘n sandstrook daaragter in die see sien strek vanaf die strand, wat later as die Slangrivier uitgeken is.

Nou het hulle met alle mag geroei en die volgende oggend om 10 uur die kus bereik.  Die kaptein het al die dokumente van die skip in sy lyfband gesit terwyl hulle ‘n stryd gevoer het teen die hoë deinings.

Ongeveer 300 – 100 jaarts vanaf die strand het die kaptein gesê dat hy ‘n poging gaan aanwend om die strand te bereik.  Op 31 Augustus het hy oorboord gespring en gou begin spook teen die kolkende branders.  Die bemanning in die reddingsboot was hulpeloos en kon die kaptein nie meer sien nie.  Die branders het hul boot na die strand aangedryf en binne minute was hulle veilig op die strand.  Hulle het geweet hul kaptein was verlore en het verwag dat sy liggaam op die strand sou uitspoel.  Maar die strome het hom teruggetrek in die see.





Al die bote het die strand bereik en al die bemanning is herenig.  Die liggaam van kaptein Reid het ongeveer 2 myl (3 km) teen die kus af uitgespoel en is begrawe deur mnr Henry Potgieter van die plaas Slangrivier.  Hy het die plek gemerk en in 1910 het mev Reid Suid-Afrika besoek om ‘n grafsteen te laat oprig.  Die skip is 70 myl (112 km) wes van Kaap St Francis gevind deur die bemanning van die Politician en is na Algoabaai gesleep.

Op ‘n staptog teen die kus van Oesterbaai kan u gerus by die graf van kaptein Reid aandoen.

VLOED 16 SEPTEMBER 1964


Wat vir ‘n pragtige 23-jarige meisie, Alna Rautenbach, ‘n avontuur moes wees, het op 16 September 1964 noodlottig geëindig.  Alna was een van vyf kinders van mnr en mev G F Rautenbach van Nuweplaas, distrik Uniondale. (Foto: ‘Die Burger’ 28 Mei 2011)

Alna het as kelnerin gewerk in ‘n kafee op Oesterbaai.  Op Woensdag, 16 September, het ± 12 dm (300 mm) reën binne ‘n bestek van 1 uur in die omgewing van die Slangrivier wat by Oesterbaai uitmond, uitgesak.  Alna het in ‘n rondawel wat op die wal van die rivier gebou was, gebly.

Terwyl sy dié noodlottige nag rustig geslaap het, het die rivier in vloed afgekom.  Die watermassa het ‘n pad deur die sandduin en toegespoelde grondwal gebreek.  Die grond onder die rondawel is weggeruk en dit is opgefrommel.  Alna is meegesleur na die see.  Die ander inwoners was onbewus van die treurspel.  Werkers het die volgende oggend gesien wat gebeur het, en het mnr I P du Preez wat 400m daarvandaan gewoon het, gaan roep.  Hy is waarskynlik die laaste persoon wat haar lewend gesien het.

Die polisie is ontbied en ‘n soektog is na haar liggaam op tou gesit.  Vakansiegangers wat met hul jeep op die strand gery het, het haar lyk gevind

Daar het nog nie weer so ‘n ramp op Oesterbaai plaasgevind nie.

Op 3 Augustus 2002, 38 jaar later, het die Slangrivier ná swaar reënval weer in volle sterkte afgekom.  Een van die huise wat op dieselfde plek as die rondawel gestaan ht, het ingetuimel.  Ernstige skade is aan ‘n tweede huis se fondasie aangerig; soveel so dat dit gesloop moet word. Gelukkig was daar geen menseverlies nie.

HET U GEWEET?


Dat Oesterbaai beskik oor baie verskillende soorte voëls     (Kliek hier)


Dat daar ‘n groot verskeidenheid in plantegroei is (Kliek hier)


Dat Oesterbaai die Calamari-mekka genoem word.  Dit lê in die Calamari-strook tussen Plettenbergbaai en Port Alfred.  Die Calamari wat hier uitgehaal word, is na bewering die naasbeste spesie ter wêreld.


Oesterbaai se Calamari is veral gewild in Europese lande soos Italië en Griekeland.


Dat die plaaslike gemeenskapsaal in 1997 in gebruik geneem is.


Dat daar tans sowat 30 huise permanent bewoon word.


Dat 13 predikante vakansiehuise in Oesterbaai het.


Dat Oesterbaai sy eie motorherstel-depot het


Dat daar 2 gastehuise in die omgewing is en ‘n netjiese, moderne karavaanpark


Dat Oesterbaai spog met vele visvang-rekords, soos die Suid-Afrikaanse rekord wat in 1963 deur mnr H J Moolman van Somerset-Oos opgestel is.  Hy net naamlik ‘n witsteenbras van 61½ lb (28kg) uitgetrek.

Of wat van die vangs in 1960 deur ‘n vyftal mans, o.a. dr Engelbrecht van Stellenbosch, mnr W Odendaal van Middelburg, Kaap en mnr G Olivier van Graaff Reinet.  Hulle het vyftig geelbekke binne die bestek van net meer as ‘n uur gevang, met ‘n totale gewig van meer as ‘n halwe ton.


Dan die meer onlangse Mosselkraker van 16½kg gevang deur mnr Mel Bouwer en die Kabeljou van 15kg deur mnr. Julius Pistorius.


OESTERBAAI INWONERS ONTHOU
Smiles Fourie vertel

My vrou se broer, Ben-Piet van Zyl (wat later Springbok-rugby gespeel het), het gedurende 1962 by sy aanstaande skoonouers, mnr Carel Bredell, op Oesterbaai gekuier.  Ben-Piet het ons, wat toe op Heilbron woonagtig was, omgepraat om ook ‘n plek op Oesterbaai te bekom.  Ongesiens koop ons toe ‘n houthuis, wat met asbes toegeslaan was, vir die bedrag van 4 000 pond (R8 000).  Gedurende Desember 1962 pak ons toe die lang pad aan en ná ‘n rit van 12 ure bereik ons die grondpad buite Humansdorp wat ons na Oesterbaai sou lei.  Moeg van die lang rit, het ek en my vrou vir mekaar gesê, “Waarin het ons ons begewe?”












Die pad was in ‘n slegte toestand en daar was boonop 17 hekke om oop te maak.  Maar toe ons oor die laaste bult kom en Oesterbaai sien, was ons aangenaam verras.  

Die hekke is later vervang met motorhekke, waarmee ook later weggedoen is.  Vroeër het die lyn van die pad ook anders daar uitgesien.  By die eerste draaie ±3km vanaf Humansdorp, het die pad regop teen die bult uitgegaan.  Met die voertuie van destyds moes ons dit maar stormloop om bo uit te kom!


In 1971 het dit oor ‘n naweek in April geweldig baie gereën.  Soveel so, dat die pad tot by die Kromrivier weggespoel was.  Ons moes deur die veld ry om terug te gaan.  


Carel en Febè van Tonder, die ontwikkelaars van Oesterbaai, het gesorg dat daar altyd vermaak was, veral vir die jongmense.  Elke aand is ‘n “sokkie” in die restaurant gereël.  Febè het ook die winkel behartig.


Daar was nog nie 4x4’s nie, so ons moes loop na waar ons wou visvang.  Vis was baie volop en die vangste vanaf die kant baie goed.  Die bobaas vissermanne van Oesterbaai was Henry Potgieter en ‘n swart man, Alfred – ek het hom die “Hans die skipper” van Oesterbaai genoem.  Hulle twee het alles van visvang geweet.


Die gemeenskap van Oesterbaai was deur die jare ‘n lieflike klomp mense.  Almal het almal geken en almal was vriende.  Ek het gesorg dat hier ‘n hele kolonie “Senekalers” geland het.  Na ‘n vakansie in ons ou “Pienkhuisie” het hulle ook besluit om hier te vestig.


Oesterbaai het in die jare uitgebrei en gesog geraak omdat dit pragtig geleë is – weg van die stadsgewoel en tog naby genoeg om in die onmiddellike omgewing baie besienswaardighede te vind.  ‘n Rustige gemeenskap met die minimum van al die dinge wat in stede en dorpe aan die orde van die dag is.


UNA BORNMAN VERTEL …..


In Desember 1960 het ons vir die eerste keer die lang rit van Kimberley na Oesterbaai aangedurf.  Ons het so lekker vakansie gehou en so baie visse gevang, dat ons daar en dan “Huis no.7” gekoop het.  Gedurende Februarie bel Carel van Tonder en vra of ons nie ‘n ruiling sal maak nie, want ds. Ben-Piet van Zyl (die bekende rugby-skeidsregter) wil graag no.7 hê, aangesien sy skoonpa, mnr Bredell, no.6 besit het.  Ons stem toe in en dit is hoe ons die eienaars geword het van “no.30”, die laaste huis in die destydse Oesterbaai.


Ben-Piet het ‘n paar jaar daarna ‘n hartaanval op die rugbyveld gehad, maar sy suster, Louise en haar eggenoot, Smiles Fourie, is nou nog woonagtig op die perseel van “no.7”.


Aangesien my man in die onderwys was, het ons drie keer per jaar op Oesterbaai kom vakansie hou.  Elke oggend het Febè van Tonder ‘n lys omgestuur vir ons bestellings en die middag kon ons dit in die winkel gaan haal.  Henry Potgieter van Graswerf het melk by elke huis afgelewer.


Onder Febè se beheer was daar ‘n kragopwekker wat elektrisiteit verskaf het.  Saans om 7 uur het die ligte aangekom en kort voor 10 uur het sy die ligte geflikker.  Almal gryp dan na lampe of kerse, want vyf minute daarna het die ligte afgegaan.  Verder was alle toestelle in die huis óf van gas óf paraffien.


Febè het destyds die winkel, asook die restaurant bestuur.  Saans is daar dikwels danse of bioskoop-vertonings gereël.


Die groot aantrekkingskrag was natuurlik die visvang.  Die 4x4 voertuie was nog nie mode nie en almal het viswaters toe gestap – dikwels tot so ver as Doorskraal of die Punt, en die swaar vragte visse moes teruggedra word.


In Desember 1980 tree my man af en ons trek Humansdorp toe.  Die tjokka toeloop het toe net begin.  Febè het ook begin siek word en ek het haar in die winkel gaan help.  Dit was harde arbeid, want as Jan Steynberg daar stilhou met sy baie petroldromme vir sy vyf bote, moes ons hulle volmaak met net ‘n handpomp.  Groot was die verligting toe die elektrisiteit ‘n jaar daarna aangelê is!


Daar is so baie herinneringe:  die spitbraai-aande deur Jackie de Vos;  die boeresport op die strand elke Nuwejaarsdag;  die visvang-byeenkoms elke jaar op 16 Desember by Mosterdshoek;  die groot reën toe die chalet weggespoel is; die keer toe Febè die vuil skottelgoedwater oor my suster uitgegooi het, in plaas van oor die bakleiende Alsatians;  die keer toe my man oorboord geval het van Japie Du Randt se boot en hy kon nie swem nie;  die baie vassit op die strand in verskeie voertuie;  ou Alfred wat heeldag so geduldig langs die viswaters kon sit wanneer hy nie op die bulldozer gewerk het nie;  die baie pap wiele en gebreekte voertuie op die grondpad;  ens.


Ek is nou ‘n permanente inwoner van Oesterbaai en geniet nou elke dag die natuurskoon, die vars lug, die baie wind, die stilte en die maandelikse byeenkoms van die dames se Kletsklub.


HENRY POTGIETER VERTEL (volgens ‘n bandopname wat gemaak is deur die Afrikaanse Radio Stasie)


Oesterbaai se benaming is verkry as gevolg van ‘n Oesterbank langs die kus.  (Hulle wou dit eers St Francisbaai noem.)  Daar het, voordat Oesterbaai aangelê is, tot 40 gesinne gedurende die vakansie-seisoen kom uitkamp.  Die mense het hul motors op die plaas parkeer.  Ek het hulle dan met ‘n slee of perde met hul tente en bagasie oor die duine vervoer.  Vir so ‘n rit heen en terug het hy 10 sjielings gekry.


Ons het ook self by die punt gekamp.  Elke oggend het ek dan plaas toe gedraf om die koeie te melk en aas te gaan uithaal, wat ek dan vir die mense geneem het.


In 1956 het Carel van Tonder aan my 900 pond betaal vir 30 morg grond van my plaas wat aan die see gegrens het.  Nog later het hulle weer ‘n stuk grond gekoop.  Ek het hulle gewys waar ‘n voetpad langs loop na die strand en hulle het begin paaie maak en 30 huise gebou.  Hy het ook hout gemaak en uitgesleep wat hy dan na Humansdorp vervoer het.  Soms het die Kromrivier kant aan wal geloop en moes hulle maar omdraai.


ANNA VOSLOO VERTEL…..

Ek is, as enigste dogter van Henry en Ella Potgieter, op die plaas Groenkop, later Ou Werf, gebore.
In 1956 het my pa 'n gedeelte van die plaas wat aan die see gegrens het, aan Carl en Febé van Tonder verkoop, waar hulle 'n vakansieoord, Oesterbaai, aangelê het.

Ek onthou dat verskeie van die vakansiehuise telefone gehad het.  Die sentrale was in die winkel wat deur die winkelassistent beman is.  Na ure is die nommers direk van die sentrale na die huise deurgeskakel.

My pa het gedurende vakansietye melk afgelewer op Oesterbaai.  Ek en my twee broers, Drikkie en Marius, het gehelp met die volmaak van die bottels en aflewering. 

My pa het die Hendersons wat 'n huis by die "Punt" het - voorheen "Grootbank" - met 'n ossewa of slee daarheen vervoer.  Hulle het hul voertuie op die plaas parkeer.  Hulle melk is te perd afgelewer.  Die ingang tot die strand was destyds die mond, waar die "Oyster Bay Lodge" tans is.

In 1971 het Andries Potgieter langs die strand verdwyn - 'n paar van sy besittings is gevind, maar nooit sy liggaam nie.

Reg voor die gastehuis van Nic Bornman is die fondasie van die Strydoms se huis nog te sien, dit was een van die eerste huise in daardie omgewing op Oesterbaai.


GEDAGTES VAN DIE SAMESTELLER


Wat ‘n belewenis moet dit nie vir ‘n stedeling wees nie, om ná hulle reis en ‘n rit op ‘n grondpad, dié panorama te aanskou  -  Oesterbaai. Met sy wit uitgestrekte strand, blou water en mooi branders, is dit ‘n lafenis vir siel en liggaam.


Stap jy vroegoggend op die strand, begroet die Oestervangers, seemeeue en strandlopertjies jou.


Stap jy om die dorp, sien jy verskillende plante soos die Aronskelk, viooltjie, vuurlelie en nog vele meer.  Jy hoor ook die soet klanke van voëlgesang.  Moenie verbaas wees vir die skielike gelui van ‘n telefoon nie, dit is maar net die Bokmakierie.


Snags kom wei die grysbokkies en hasies op jou grasperk  En moenie verbaas wees as die varkoor- en blombolle in die tuine en veld deur ‘n ystervark uitgegrawe is nie.


En les bes, loop jy ‘n vriendelike verbyganger raak, is dit waarskynlik ‘n Oesterbaaier.


VOËLS EIE AAN OESTERBAAI


Bokmakierie, Duiwe , Visarend, Bloukransvoël, Tiptol, Vlei Loerie, Hoep-Hoep (Houtkapper), King Fisher, Fisant, Tarentale, Kolganse, Jan Fiskaal, Kwikkie, Kaapse mossie, Kaapse kanarie, Suikerbekkies, Jan Frederick, Konings rooibekkie, Laksman


OP DIE STRAND:


Oestervanger, Seemeeu, Strandloper, Sterretjie


PLANTE EIE AAN OESTERBAAI


Varkblom (Aronskelk)                          

Uilblaar                                                  

Viooltjie                                                 

Suikerbos                                                          

Pelargonium                                           

Botterkannetjie                                                                                                                                           

Speldekussing                                                 

Sterretjie

Geranacea

Pers en Geel Suurvy (Goukom)

Outeniekwa speldekussing

Verskillende malva

Kreupelhout (geel speldekussing)

Swartlelie (orgidee tipe)

Herschelia (variëteit Negressana)

Vergeet-my-nietjie

Wilde dagga

Blou daisie

Sewejaartjie

Sambreeltjies

Keurboom

Skeerkwas (rooi)

Wilde Ceneraria

Pienk Suring

Heide (pienk pypie)

Gousblomme

Karmosynheide

Groen suikerbos

Geel bietoubos

Wilde Agapanthus                                 

Tolbos en Bergtolbos

Blombos

Vuurlelie

Suikerkannetjie

Aalwyne

Watsonia

Geel tulp

Geelbos

Strandsalie

Ericas

Smiles & Louise Fourie

In about 1999 a fire swept through the area, and slightly to the east of the memorial and nearer to White Point a rectangular depression approximately 2m x 1m was found. Might this have been the grave?

Cromartyshire

Alna Rautenbach

Ou Alfred.

Smiles se ‘Hans die Skipper

Ben-Piet van Zyl

Louise se broer.


Una Bornman

Henry Potgieter en Mnr Buchner met Henry se groot Kabeljou!!!

Henry Potgieter en

Sy vrou Ella.

Mnr. H J Moolman

Inscription reads:

‘This stone marks the grave of John Reid of Glasgow Scotland captain of the ship Cromartyshire who was drowned near this spot on the 31’st of August 1901, aged 46 years.  Created to his memory by his wife and family.’

(Thanks to Paul Jooste for the research into this inscription)