Vakansie in die see, son, sand en branders
Dankie God vir nog `n dag,
n geleentheid om na U wil te leef
om weer die vreugde van die lewe te voel
en die blydskap te ervaar van gawes aan ander
Dankie vir vriende wat verstaan
En die Vrede wat vloei uit U liefdevolle hand
Help my om wakker te word met die oggendson
Met die gebed vir vandag - ‘U wil geskied....’
Want met U hulp, sal ek die reguit pad loop
Dankie weer o God vir vandag...
Anoniem
Gebed vir Kalmte
God - Skenk my die Kalmte,
Om te aanvaar wat ek nie kan verander nie,
Moed om te verander wat ek kan,
En die Wysheid om te weet wat die onderskeid is.
Om te lewe een dag op `n slag
Oomblik na oomblik te geniet
Swaarkry te aanvaar as die pad na Vrede
Soos Hy, hierdie sondige wêreld te aanvaar
soos dit is, en nie soos ek dit wil hê
Om te vertrou dat Hy alle dinge reg sal maak
as ek my wil aan Syne oorgee
Dat ek redelik gelukkig in hierdie lewe sal wees
en sal Jubel van geluk saam met Hom
vir ewig in die volgende Lewe
Amen
(Vrye vertaling – oorspronlik in Engels geskryf deur Reinhold Niebuhr)
Ierse Seëngebede (Vrye vertalings)
Mag jy altyd
mure vir die wind hê
`n dak vir die reën
Tee langs die kaggel
Plesier om jou op te beur
Jou geliefdes naby jou
En alles wat jou hart mag begeer
Mag vreugde en vrede jou omring
Tevredenheid jou deur se grendel wees
En geluk nou jou deel wees
En jou Seën vir ewig aan
Mag die Seën van God se sagte reën op jou val
Sag op jou hoof en jou siel verfris
Met die soetheid van klein blomme wat bloei
Mag die krag van die winde van die Hemel jou seën
En die reën na jou dra om jou gees skoon te was
Vonkelend dan in die sonlig
Mag die seën van God’s aarde met jou wees
En soos jy die paaie wandel
Mag jy altyd `n sagte woord spreek
Vir die wat jy op pad ontmoet
Mag die seën van lig met jou wees
Lig aan die buitekant
Lig aan die binnekant
Met God se sonlig skynend op jou
Mag jou hart gloei met warmte
Soos `n kolevuur
Wat vriend en vreemdeling beide welkom heet
Mag die Lig van die Here uit jou oë skyn
Soos `n kers in ‘n vensterbank
‘n verwelkoming vir die vermoeide reisiger ...
Mag daar altyd werk vir jou hande wees
Mag jou beursie altyd `n muntstuk of twee bevat
Mag die son altyd op jou venster skyn
Mag ‘n reënboog altyd elke reën volg
Met die hand van ‘n vriend altyd naby jou
Mag God jou hart vul met blydskap vir jou pad
Ierse kombuis gebed
Seën ons met goeie voedsel, die gawe van gesels en hartlike plesier
Mag die liefde en vreugde wat ons deel met ons wees vir ewig aan
Amen
Gebed by ‘n roudiens
Dit skyn asof ons haar terug gee aan U O God,
wat haar vir ons gegee het.
Tog, soos U nie verloor het in u gawe nie,
so verloor ons nie deur haar terug te gee nie.
Want die lewe is vir ewig
en
liefde vergaan nie
en
die dood is net `n horison
en
`n horison is niks behalwe die limiet van ons sig…
(William Penn 1644 - 1718 http://www.poeticexpressions.co.uk Vrye vertaling)
Apostoliese Geloofbelydenis
Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.
En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here; wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader, van waar Hy sal kom om te oordeel die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan ‘n heilige, algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die vlees
en ‘n ewige lewe.
DIE GELOOFSBELYDENIS VAN NICÉA
Hierdie Belydenisskrif word genoem na die plek Nicéa (Klein-Asië) waar daar in die jaar 325 'n Sinode gehou is en waar die dwalings van Arius verwerp is. Die finale vorm is egter eers van 'n later datum, waarskynlik van die Sinode van Konstantinopel, 381 (NGB, art 9).
• Ons glo in een God, die almagtige Vader, die Skepper van hemel en aarde, van alle sigbare en onsigbare dinge;
• en in een Here Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, voor al die eeue uit die Vader gebore:
• Hy is God uit God, lig uit lig, ware God uit ware God,
• gebore, nie gemaak nie, een in wese met die Vader,
• deur wie alles tot stand gekom het.
• Hy het ter wille van ons, mense, en ons saligheid uit die hemel neergedaal en het deur die Heilige Gees uit die maagd Maria vlees geword; Hy het mens geword;
• onder Pontius Pilatus is Hy vir ons gekruisig;
• Hy het gely en is begrawe.
• Op die derde dag het Hy volgens die Skrifte opgestaan,
• en Hy het na die hemel opgevaar.
• Hy sit aan die regterhand van die Vader, en Hy sal met heerlikheid terugkom om die lewendes en die dooies te oordeel.
• Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.
• Ons glo in die Heilige Gees, wat Here is en lewend maak.
• Hy gaan van die Vader en die Seun uit, en Hy word saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik.
• Hy het deur die profete gespreek.
• Ons glo aan een, heilige, algemene en apostoliese kerk.
• Ons bely een doop tot vergifnis van die sondes.
• Ons verwag die opstanding van die dooies
• en die lewe van die toekomstige bedeling.
• Amen.
Heer, waar sal ons tog gaan?
Moeg gedra aan my vrag sonde
Siek en moedeloos van binne
Sien my Heer, vir u genade smeek
Sien my voor U kniel O Heer
Hier voor u Kruis lê ek my neer
Om hier te leef of hier te sterf.
Oor en oor het ek vergeefs probeer
Op elk manier my pyn te stil
Nou is menslik hoop vergeefs
Net dit is oor, ten laas
Hier voor u Kruis lê ek my neer
Om hier te leef of hier te sterf.
Sou ek hier te sterwe kom
By die Vriend van sondaars
Weet ek dit is genoeg O Heer
Nooit sterf `n sondaar by U voet
Hier voor u Kruis lê ek my neer
Hier kan ek, kan ek, nooit tot sterwe kom.......
(Vrye vertaling van ou Gesang ‘Lord to whom shall we go? Rev George Wade Robinson 1838 tot 1877’ - Kliek hier vir oorspronklike)
Kom tog gou o Heer!
‘Kom tog gou Jesus!’, bid die predikant
‘Ja Amen’ sê `n boer, ‘kan u spoedig kom!
Maar na die oes, want op my nuwe stuk land
Het ek nog nooit die oes sien blom.’
‘Ja Amen’ sug mevrou, ‘maar kan ek eers
Die Bontjas wat ek gister in die winkel sien hang
Voor spaar en aantrek na die koor net eens?
Net een aand gegee in Christelik belang?’
‘Ja Amen’ sê die kind, ‘maar nog nie nou
Ek wil nog met vakansie na die Bos
Maar ek sal waai dat U onthou
Om ons in Skooltyd te verlos’
‘Kom haastig Jesus!’ bid die predikant
‘Maar kan ek eers my nuutste preek lewer
Wat ek vir die Jeug wil gee oor hul Gods verband
Oor ‘Jy sal verstaan as jy luister’
Die Gebede kom in die Hemel aan
Die Engele wat dit gebring het swyg
En Jesus vra ‘Kan ek vandag al gaan?’
Sy Vader sug en sê ‘Jy sal maar nog moet wag’
(Vrye vertaling – oorspronklik in Nederlands geskryf deur Okke Jager)
Gebed vir Vrede
Almagtige God en Vader,
vanuit wie alle waarheid en vrede kom,
raak die harte van alle mense aan
met u heilige liefde en vrede.
Kom, O Prins van vrede,
lei en leer die heersers van ons land,
met besluitneming deur u volkome wysheid.
Skenk aan hul u onderskeidingsvermoë,
tot die vooruitgang van u koninkryk,
totdat ons hele land gevul word
met die kennis van u oneindige liefde.
Dankie Jesus, ons Here en Verlosser.
(Thomas Dreyer)
Mag jy
Genoeg geluk hê …
om jou dankbaar te maak
Genoeg wind-van-voor kry …
om jou sterk te maak
Genoeg trane stort …
om jou naby aan die aarde te hou
En genoeg hoop koester …
om jou lewenslus te gee.
(Kliek hier vir storie agter die Seën)
Wanneer jy baie vrae het...vra vir My.
Onthou daar is geen woord op jou gedagte
Wat Ek nie reeds weet ...
Onthou Ek is by jou
En dat Ek jou hoor
Selfs van diep binne
`n woord, gedagte of sug.
Bly by My en hou My vas
EK IS MET JOU
Veilig deur die storm sal jy kom
Omdat jy vashou aan My.
(Bydrae deur Helena)
GEBED VAN AUGUSTINUS
Fluister in my oor, Heilige Gees:
Ek sal dan net die goeie dink.
Spoor my aan Heilige Gees:
Ek sal dan die goeie doen.
Daag my uit, heilige Gees:
Ek sal dan net die goeie soek.
Gee my krag, heilige Gees:
Ek sal dan die goeie kan vashou.
Beskermheer, O Heilige Gees:
Ek sal die goeie nooit vergeet.
(Vrye vertaling van Gebed van Augustinus 13 November 354 – 28 Augustus 430)
Nie al die dinge van die wêreld nie, maar God.
Nie rykdom nie, maar God.
Nie eerbetoning nie, maar God
Nie ereplekke nie, maar God.
Nie prestasie nie, maar God
Altyd en oral en in alles God!
(St. Vincent Pallotti )
Ek smeek U, Heer, om hulp dat ek behou
Die wonderskat my toebedeel as kind:
Dat ek, in wat ek op U wêreld vind,
Weerkaatsing van U godlik skoon aanskou.
(C. Louis Leipoldt - " 'n Kersnaggebed ", Skoonheidstroos, 1932)
(Vanaf webblad www.andiquote.co.za)
Mag die pad vriendelik wees onder jou voet
Mag die wind jou altyd stu
Mag die son warm streel op jou gesig
En die reën saggies op jou lande val
En - tot ons weer ontmoet
Mag God jou bewaar in die Palm van Sy Hand…
(Ierse Gebed - vrye vertaling)
Gebed van St Franciscus van Assisi
God - maak van my `n instrument van U Vrede
Waar daar haat is, laat my Liefde saai
Waar daar seermaak is - Vergifnis
Waar daar vertwyfeling is - Geloof
Waar daar wanhoop is - Hoop
Waar daar donkerte is - Lig
En waar daar hartseer is - Vreugde
O Heilige God - gee dat ek nie soveel streef
Na vertroosting as om te Vertroos nie
Om verstaan te word as om self te probeer verstaan
Om vir liefde te vra as om Liefde te gee
Want dit is deur te gee wat ons ontvang
Dit is deur te vergewe wat ons vergewe word
En dit is in ons sterfte wat ons gebore word tot U ewige Lewe…….
Amen
(Vrye vertaling)
Laat my nooit U grond verlaat nie.
Laat my in U skadu bly.
Gee dat elke aardse vreugde en vrees,
eindelik nietig word vir my.
Elke afdraai paadjie ken ek.
Elke keer het ek verdwaal.
Elke keer het u my iewers kom haal.
Maak dit Heer, die laaste maal.
Elke dag is ‘n gedagte.
Elke kamer net gehuur.
Elke aardse droom van rykdom en roem,
net ‘n skadu teen die muur.
Wat ek is, is net genade.
Wat ek het, is net geleen.
Eintlik smag ek na U waters van rus.
Lei my Heer vanaand daarheen.
(Gebed - deur Koos du Plessis)
(Kliek hier om Koos du Plessis se dogter Karla dit te hoor sing)
Here maak my gewillig -
om te neem wat U my alles wil gee
om te bly sonder die dinge wat U terug hou
om prys te gee wat U van my wegneem
om te aanvaar wat U my oplê
om te wees wat U van my verlang
om te doen wat U my beveel.
Amen
(Gebed van oorgawe deur George Whitefield)
’n Gebed van St. Patrick (Uit boek ‘n lewe naby God’ deur Nina Smit’
Ek staan vanoggend op met God se krag wat my rig,
God se mag wat my vashou,
God se hand wat my bewaar,
en God se wysheid wat my lei.
Wees van vanoggend tot vanaand, o Here,
by my en in my.
Christus, wees agter my en voor my,
Christus, wees langs my en rondom my,
Christus, wees bo my en onder my.
Christus, wees by my in die uur van stilte én storm ...
praat met my deur die mond van ’n vriend
en deur die oë van ’n vreemdeling.
Amen.
Gebruik my, dan, My Verlosser, vir enige doel
en op enige manier wat U nodig mag vind;
Hier is my arme hart - 'n leë kruik; vul dit met U genade.
Hier is my sondige en ontstelde siel -
Maak dit lewendig en verkwik dit met U Liefde.
Neem my hart tot U vir U tot woning,
My mond om die eer van U naam te versprei
My liefde en al my kragte vir die welsyn van U gelowige volk,
En laat die standvastigheid en vertroue van my geloof
nooit verminder nie sodat ek te alle tye sal kan sê
Jesus het my nodig
En ek vir Hom
Sy wil geskied.
Amen
(Gebed van Dwight Moody)
Onse Vader - Jesus volgens Mattheus 6
Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word;
laat u koninkryk kom; laat u wil geskied,
soos in die hemel net so ook op die aarde;
gee ons vandag ons daaglikse brood;
en vergeef ons ons skulde,
soos ons ook ons skuldenaars vergewe;
en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid
tot in ewigheid.
Amen
Seën
Mag die Here jou seën met ongemak oor maklike antwoorde,
halwe waarhede en oppervlakkige verhoudings
sodat jy uit die diepte van jou hart kan leef.
Mag die Here jou seën met woede oor onreg,
onderdrukking en die uitbuiting van mense
sodat jy kan werk vir geregtigheid, vryheid en vrede.
Mag die Here jou seën met trane om te stort vir mense
wat pyn, verwerping, honger en oorlog ervaar
sodat jy ’n hand kan uitreik en hulle pyn in blydskap verander.
En mag God jou seën met genoeg dwaasheid om te glo
dat jy ’n verskil in die wêreld kan maak
sodat jy dinge sal kan doen wat ander mense dink nie gedoen kan word nie
(’n ou Fransiskaanse seën).
Psalm 121 - ’n BEDEVAARTSLIED.
Ek slaan my oë op na die berge: waar sal my hulp vandaan kom?
My hulp is van die HERE wat hemel en aarde gemaak het.
Hy kan jou voet nie laat wankel nie; jou Bewaarder kan nie sluimer nie.
Kyk, die Bewaarder van Israel sluimer of slaap nie.
Die HERE is jou Bewaarder; die HERE is jou skaduwee aan jou regterhand.
Die son sal jou bedags nie steek nie, die maan ook nie by nag nie.
Die HERE sal jou bewaar vir elke onheil; jou siel sal Hy bewaar.
Die HERE sal jou uitgang en jou ingang bewaar, van nou af tot in ewigheid.
Here, daar is geraas in my hart.
Al word dit soms stil rondom my, is dit of die geraas binne my net nie stil word nie.
As ek besig is, dan pla dit my nie so erg nie, dan is dit maar soos donderweer in die verte.
Maar as dit stil word rondom my, daar waar ek in die nag wakker lê en peins, dan word hierdie veraf gedreun ‘n skrikwekkende storm.
En die klank is nie die majestueuse klank van ‘n simfonie wat opwerk tot ‘n magtige crescendo nie, nee, dis soos die oorverdowende gekap van potte en panne.
Wat ‘n lawaai. En ek voel magteloos om dit stil te maak hier binne-in my.
Here Jesus, U wat eens die wind en die golwe aangespreek het en dit het stil geword, maak dit stil in my.
Spreek net ‘n woord … en u vrede sal in my hart kom heers.
Ek wag … stil … geduldig.
Tot ek u liefdevolle opdrag hoor en as u vir my sê:
wees stil en weet, ek is die Heer.
(Outeur Richard Foster)
God van ons lewe, daar kom dae
wanneer die laste wat ons dra ons skouers skaaf en ons neerdruk;
wanneer die pad vorentoe droewig en eindeloos lyk,
die lug vaal, troosteloos en dreigend;
dae wanneer die lied uit ons lewe verdwyn
en ons hart eensaam is en ons siel moedeloos word.
Laat dan u lig skyn op ons pad,
rig ons oë op na die hemele van belofte;
snaar U ons hart vir die lied;
skenk ons die gemeenskap van die heiliges en helde van die eeue;
en sterk so ons gees om ook ander,
wat die pad saam met ons bewandel,
te onderskraag tot u eer en verheerliking.
Amen. - (Outeur Augustinus)
Verrese Heiland,
die kerkklokke lui vanoggend anders. Hulle is Paasklokke.
Hulle lui oor die vallei.
Hulle lui oor die stad.
Hulle lui oor die wêreld.
Die Here het opgestaan!
Ja, Hy het waarlik opgestaan!
Saam met Christene oor die wêreld, al u kinders,
wil ek aanbid, Oorwinnaar!
Saam met die klokke wil ek juig
oor die wonder van ’n graf in ’n tuin
wat oopgegaan het om nooit weer toe te gaan nie.
Daar’s ’n pad getrap deur die dal van die dood.
U het dit uitgetrap.
U het bloedspore getrap.
Die pad gaan deur die dood
na die ewige lewe.
Ek gaan dié pad volg as U my roep.
Ek het saam met U opgestaan, Here Jesus.
Hier binne-in my hart is dit al anders.
Ek was met U in aanraking.
U het my aangeraak.
Ek sal nooit sterf nie.
Want U leef!
U leef!
Ek juig oor U, Here Jesus.
Ek juig saam met die Paasklokke.
Ek juig in die môre,
oor ’n nuwe môre
wanneer die klokke nie sal ophou nie,
wat sal môre bly
en nooit aand word nie.
Amen. - (Outeur I L de Villiers)
'n Pinkster gebed
Leer my Heer, U wil en weë;
Lei my op die regte pad;
Wees ’n Lig in donker tye;
Bring my in die Hemelstad,
Waar geen doodsvallei meer is nie ---
Maar net lig van U sal straal:
In die Goudstad wat van bowe
Op die aarde neer sal daal.
Leer my Heer, U Woord en wysheid,
en gehoorsaam so te wees,
Dat die soete liefde leiding
Van Uself O Heil’ge Gees,
Deur my spreek met taal en uitleg,
onderskeiding en geloof,
En genades van genesing,
Jesus naam met krag te loof.
Skenk my al die liefdegawes,
van U Heil’ge Gees, O Heer;
Sodat ek ook eens vir ewig
saam met Jesus sal regeer
In die wonderskone Goudstad,
Waar die Here plek berei;
In die huis met baie wonings;
Vir Sy kinders en ook my.
(Geskryf deur Joffie Janse van Rensburg
op 10 Augustus 1952)
Vroeg in die more soek ek U,
heerlike, heilige God,
lig, ewige glans, skeppende krag,
en dank U vir U dag.
U maak lig in die duisternis,
maak dit ook in my lig
in die vroeë môre van U dag.
U Woord is die Lig.
Praat met my.
U Waarheid is die Lewe,
maak dit lewend in my,
dat ek die dood nie meer vrees nie."
Jorg Zink
Lied 284
Laat, Heer, u vrede deur my vloei...
waar haat is, laat ek daar u liefde bring:
Laat ek in pyn en smart vertroostend wees
en krag gee deur geloof in U, o Heer.
O Heer, help my om altyd so te leef -
om ander hoër as myself te ag,
ja, om lief te hê – ander bo myself -
en ook eerder te gee as te verwag.
Laat, Heer, u vrede deur my vloei...
en laat ek hoop gee waar daar twyfel is.
Ek wil u lig in duisternis laat skyn.
Laat ware vreugde altyd uit my straal.
O Heer, help my om altyd so te leef -
om ander hoër as myself te ag,
ja, om lief te hê – ander bo myself -
en ook eerder te gee as te verwag.
Laat, Heer, u vrede deur my vloei...
leer my om ook soos U te kan vergeef.
Maak my bereid om aan myself te sterf,
dat ander U al meer in my kan sien.
Ek is dikwels op my knieë gedryf deur die oorweldigende sekerheid dat ek nêrens elders het om heen te gaan nie. My eie wysheid, en die van die mense rondom my, het onvoldoende gelyk vir die dag. (Abraham Lincoln)
Pinkster 2010
Heilige Gees, kom stuur ‘n wolkbreuk
in hierdie woestynhart van my
Laat waarheid en woord weer kom insak
Tot diep in die wortel van my
Met elke newelbeeld van uitkoms
kom draai weer my oë terug na U
Kom gee my weer asem vir die langpad
Om enduit getrou te kan bly
(Carli Lessing)
Kliek hier!
Kliek hier vir “King of my heart” deur Steffany Gretzinger.