Vakansie in die see, son, sand en branders


Drikkie Potgieter

Die volgende is `n kort Geskiedenis en interresante feite oor Oesterbaai, geskryf deur Drikkie Potgieter, seun van  Henry Potgieter. (Henry Potgieter het geboer waar Oesterbaai vandag is en dele van sy eiendom aan die ontwikkelaar, Carel van Tonder, verkoop)

My naam is Drik Potgieter - gebore 1 Februarie 1947, op die plaas Kleinbegin van Oupa Bellingan en opgegroei op die plaas Groenkop van my Oupa Hendrik Potgieter.


Na my oupa Hendrik se dood het my pa die plaas uitgekoop van sy broers en susters.


Ek skryf hierdie soos wat my ouers, Henry en Ella Potgieter aan my vertel het en wat ek self van kleins af kan onthou.


Daardie jare het ons nog nie 'n motor gehad nie en die enigste vervoermiddels was 'n perdekar, ossewa of te perd.


Desember vakansies het ons almal by Grootbank (nou die Punt) gaan uitkamp; die Potgieters en die Bellingan's. Dit was 'n baie groot optog met die ossewa. Die enigste toegang tot die strand per ossewa, perdekar of slee was by Klipdrif en dan deur die Sandwater op die strand op na Grootbank. Dit was deur oom Jack Potgieter se grond. Die tog kon alleenlik aangepak word ten tye van laagwater, want dan was die nat sand hard en die ossewa se wiele het nie ingetrap in die nat sand nie. Die vrag was gewoonlik baie swaar want dit was 'n maand se kasvoorraad, beddegoed en eetgerei. Voor 'n mens by Grootbank uitkom, is daar rotse op die strand en daar is 'n opening baie naby aan die see waar die ossewa kon deurgaan, met laagwater. Dus moes die tydsberekening vir die deurgang baie goed gewees het, anders moes jy ses ure daar wag dat die gety moes teruggaan.

By Grootbank was daar twee grasdakhuisies, een van die Potgieters en een van die Bellingan's. Van die vakansiegangers het in die huisies geslaap, ander op die wa in die wa-tent, ander onder die ossewa en as daar te veel was, in tente.

In die een huisie was 'n Welcome Dover houtstoof, waar die kos op gekook was, en 'n Primus stoof om iets vinnig gaar te maak. Daar was geen yskas nie, en 'n melkkoei is saamgeneem vir vars melk. Die naaste vars water is verkry uit 'n fontein ongeveer 'n kilometer van die kampplek, en dit is met emmers aangedra. Vars vleis was daar nie, en die stapelvoedsel was vis, allekreukel, brood, mieliepap sonder melk (soms bietjie suiker) en moerkoffie.

Sondae is daar gekook en die vleis was gesoute, ingelegde vleis. Daar was ook altyd blikke koekies en droë boerbeskuit. Die koeldrank was gemmerbier en Exa aanmaak koeldrank.

Die mans het deur die dag visgevang en die vrouens het met die kinders in die gety poel gaan swem, soms gaan stap en skulpe opgetel by die eerste rotse. Daar is ook 'n klein stukkie strand tussen die rotse wat baie veilig was, waar ons kinders geswem het.

In 1949 het Bert Henderson van Pearson my oupa Hendrik Potgieter (Ore) en sy broer Jack Potgieter genader om die deel Duine grond te koop, wat Grootbank (Die Punt) ingesluit het. Die grond is met baie onderhandelinge toe verkoop. In 1952 het Bert Henderson begin om vir hom 'n vakansiehuis by Grootbank te bou. Oom Bert het 'n John Deere trekker en sleepwa van sy plaas in die Pearson distrik laat kom om die  boumateriaal van Humansdorp na Klipdrif by die Sandwater aan te ry. Daarvandaan is dit deur die Sandwater (rivier), strandlangs, tot by Grootbank (Die Punt) per slee en span osse vervoer. Die rede hoekom 'n slee gebruik was, is omdat 'n ossewa se wiele insak in die sand as dit swaar gelaai was, en daar kon nie altyd gewag word vir laagwater nie.

Na die voltooiing van die huis, het die Henderson's, Julie en Des/Jan kom vakansie hou. Die motors is in die beginjare by die Sandwater gelaat op die plaas Klipdrift. Die bagasie is per ossewa vervoer. Oom Bert het altyd met sy Landrover gekom, waarmee hy die mense tot by sy huis by Grootbank, vervoer het. Oom Jack Potgieter het gewoonlik elke oggend vir hom 'n gallon melk te perd geneem. Daar word vertel dat die oom een Oujaar oggend, tydens die melk aflewering, bietjie teveel van die wingerdsap gebruik het. Daar word vertel dat hulle verplig was om Oom Jack bo-op sy perd moes vasbind sodat hy op sy perd kon bly, met sy terugtog strand langs, huis toe.

Na die ontstaan van Oesterbaai in 1956 het Oom Bert en sy familie hul motors by my oorlede pa op die plaas Groenkop, gelaat. My pa het vir Oom Bert 'n motorhuis agter ons huis gebou, vir sy luukse motor, as hy met vakansie gekom het.

My pa het toe gesorg dat die Henderson's elke dag by hul strandhuis, melk gratis kry. Ek was die een wat elke dag, te perd vroegoggend die melk gaan aflewer het. Dit was 'n rit van 5 Km strandlangs.

PRAGTIGE JARE OM TE ONTHOU!!

OESTERBAAI

Voor Oesterbaai se ontstaan het die vakansiegangers wat by die Oesterbanke gaan uitkamp het, hul motors op ons werf, Groenkop, (nou Graswerf) ('n gedeelte van Slangrivier), gelaat.


Daar was twee grasdakhuisies by die Oesterbanke wat aan Manie en Laurie Strydom en Schonegevel behoort het.


Die grond by die Oesterbanke was die eiendom van die Strydoms. Later jare het die Stewarts van Misgund 'n asbeshuisie opgesit. Die drinkwater het uit 'n lopie (stroompie) gekom vir huisgebruik. Die stroompie se inloop die see in, is tussen Manie se huis en Hoëbank.


Al toegangsroete van Groenkop (die Plaas) was 'n voetpad en 'n sleepad. Die voetpad roete was 'n kortpad oor die sandduine en deur 'n bos na aan die see. Die vakansiegangers se bagasie was gewoonlik deur die plaaswerkers se vroue en kinders oor die sandduine en deur die bos gedra tot by die Oesterbanke. Die vergoeding was gewoonlik 'n sikspens of 'n sjieling per persoon. Oom Laurie Strydom het gewoonlik 'n perd geleen om by sy strandhuisie te kom. Dan was dit my plig om saam te stap en die perd terug te neem plaas toe. Sommige tye was Ou Stephen by dan het hy die perd teruggebring.


(Ons het gewoonlik ons visstokke in die Strydoms se strandhuis gebêre, dus was dit gerieflik om nie die stokke heen en weer van die plaas, see toe te dra nie). Die Schonegevels se bagasie is ook gewoonlik gedra. Ek het gewoonlik 'n boksak met wynbottels melk in die oggend gaan aflewer.


Die groot vragte is per slee vervoer (getrek deur osse). Die roete was soos volg. Op Groenkop weggetrek in 'n Oostelike rigting tussen die werkers se huise en die vlei deur, al aan die noordelike hang van die eerste randjie tot by die Boekenhoutbos. Dan skerp Suid oor die rante en sandduine deur die bos en deur 'n vlei en dan oos van die huidige pomphuis uitgekom en dan regaf see toe tot by die Oesterbanke. Die bagasie wat nie mag nat word nie is gewoonlik bo-op die vrag gelaai, want die vlei was soms modderig en het baie water gehad.


Die bemanning op so 'n tog was 'n drywer met Wa, sweep en 'n touleier. Die vergoeding was een pond tien sjielings. 'n Pond vir die drywer en tiensjielings vir die touleier. Die vergoeding was vir 'n wegbring en gaan haal. (Die touleier moes sy stap ken want die twee voorosse was haastig van geaardheid en as jy nie op jou hoede was nie, het hulle 'n winkelhaak uit jou gelapte kakiebroekie se gat gegaffel.


My pa, Henry Potgieter, aan wie die osse behoort het, het geen vergoeding gevra nie. Hy het altyd vir die vissermanne gevra om vir hom 'n paar sinkers te gee as hulle teruggaan, want daardie was swaar jare. Ons het baie kere ou boute, moere, stukkies yster en halwe hoefysters gebruik vir sinkers. My pa het my ook altyd na 'n vakansie, see toe gestuur met springgety om sinkers wat afgebreek het van die rotse te gaan afhaal. Ek moes ook in die begin jare nylon van die rotse afhaal en aanmekaar bind met 'n vissersknoop om mee vis te vang en baie keer 'n stukkie rots (klip) gebruik vir 'n sinker.


Daardie jare was die Oesterbanke byna 'n klein tentdorp Desember en Paastyd. Die motors en bakkies het dan op die plaaswerf gestaan, soms tussen twintig en dertig voertuie.

Die Oesterbanke - Oesterbaai is vernoem na hierdie rotsrif…


Die visvangplekke se name is soos volg van Wes na Oos:


1. Die Strand - Kabeljou, Elf en Steenbras

2. Die Eerste Rotse, Die Hekklip. - Kabeljou, Steenbras, Galjoen, Elf en Kolstert.

3. Oesterbanke - Galjoen en Steenbras

4. Agter Manie se Huis (Sementblad) - Kabeljou, Galjoen, Mosselkraker, Elf en Steenbras.

5. Hoë Bank se sloep.

6. Hoë Bank - Kabeljou, Mosselkraker, Steenbras, Galjoen, Kolstert en Wildeperd.

7. Blousloep  - Galjoen, Kolstert en Mosselkraker.

8. Aasgate - Galjoen, Mosselkraker, Kabeljou, Elf, Steenbras en Kolstert.

9. John se Gat - Klein Vis soos Strepies en Kolstert.

10. Speurman – Alle soorte, Elf by uitstek.

11. Thomas se Gat - Klein Vis

12. Deurloop - Mosselkraker, Kabeljou, Elf, Galjoen, Steenbras en Kolstert.

13. Breë Baai - Kabeljou, Mosselkraker, Elf en Steenbras. Die Graf - Galjoen en Mosselkraker.

15. Die Graf se Baai - Galjoen, Bontrok, Kolstert, Mosselkraker en Hottentot.

16. Boonste Landman - Mosselkraker, Galjoen en Kabeljou.

17. Kleinkoppies - Klein Vis.

18. Koppies - Kabeljou, Mosselkraker en Elf.

19. Onderste Landman (Henry se Gat) - Mosselkraker, Kabeljou, Elf, Galjoen en Steenbras.

20. Thijsfontein - Pangaljoen (Stinkvis) en Mosselkraker, Kabeljou, Elf, Galjoen, Hottentot en Steenbras.

21. Blinkbaai - Mosselkraker, Elf, Janbruin en Hottentot.

22. Kwaaibank- Poenskop, Mosselkraker, Janbruin en Elf.

23. Fingo's bank - Hottentot, Elf, Mosselkraker, Galjoen, Kabeljou en Kolstert.

24. Klipbaai (Tony se Baai - Swartbankies) - Elf, Hottentot, Galjoen, Mosselkraker en Bontrok.

Die eerste poskaart van Oesterbaai.

Die Hek-klip - Regs van die Hek-klip het die bote vroeër see toe gegaan. Vissermanne op die foto is Neil en Carel Buchner en twee ander.

Drikkie Potgieter en Alna Honiball. Die perde is ‘Baba’ - die witperd en ‘Liggie’ en ‘Donker’ - haar vullens.

Kabeljou

Kabeljou

Elf

Wit Steenbras

Galjoen

Kolstert (Dassie)

Mosselkraker (Poenskop)

Strepie


Wildeperd (Zebra, Bontrok)

Hottentot

Janbruin

Oesterbaai is in 1956 deur Carel van Tonder, van my pa, Henry Potgieter gekoop. Dit was 35 morg - wat nie boerdery grond was nie. Dit was baie bebos en het aan die see gegrens, dus geskik vir 'n strandoord. Ook baie ongelyk.


Die eerste gebou was 'n stoor, Wes van die huidige saal. Die stoor was 'n tydelike hout en sinkstruktuur. Die eerste inwoner in die stoor was Koos Meyer. Wat hy eintlik daar gedoen het, weet ek nie, daardie jare was ek ongeveer 9 jaar oud.

Die eerste 30 huise was 3-slaapkamer houthuise op pale. Die eerste huis is reg agter die huidige winkel gebou en nog agt huise op die rant, dus 'n totaal van nege. Die eerste permanente inwoners was Carel en Febe van Tonder asook Tony Auret.

Die winkeltjie is toe opgerig waar die huidige winkel nou staan. Dit was ook 'n steengebou. Later is 'n Dieselpomp en later 'n petrolpomp opgerig. Daar was geen elektrisiteit nie en dus was 'n man verplig om die handpomp self te gebruik. Ongelukkig was 'n mens nie altyd seker of daar wel brandstof beskikbaar is nie.

Henry Jacobs was die Van Tonder's se Handyman asook motor en vragmotorbestuurder.

Daar is toe begin om 'n pad van die boonste ry huise na onder te bou. Dit was 'n moeisame taak om die pad gebou te kry en baie motors het teen die opdraand vasgesit. Baie later is 'n sementpad gebou.

Die volgende ry huise is toe naaste aan die strand gebou en toe nog twee rye daar agter vir 'n totaal van dertig. Die karavaanpark is later aangelê en erwe is verkoop en steenhuise is gebou.

Die eerste drinkwater is met 'n klein Dieselenjin uit die Slangrivier gepomp in 'n tenk bo-op die rand. Die huisies het ook almal sink-water tenke gehad.

In die beginjare is ook gebruik gemaak van kerse en paraffienlampe. Later jare is 'n kragopwekker aangekoop wat net vakansietye gebruik is. Die Desember vakansie van 1964 het Oom Karl my gevra om die kragopwekker elke nag om twaalfuur af te skakel, maar ou Kersaand en Nuwejaar moes ek die kragopwekker eers drieuur, die oggend afskakel.

Daar is ook 'n pad gebou tot by die huidige pomphuis.

Oesterbaai is toe vergroot en meer see-grond is bygekoop vir ontwikkeling. Oesterbaai se grondgebied het toe gestrek tot by Thijsfontein. Daar by Thijsfontein het gewoonlik 'n ou Engelsman, Clark, kom kamp en hy is vanaf die Mostert's se plaas, Welgelegen per osse en slee weggebring oor die duine. My oupa hulle het eendag saam met hom gaan visvang. Hulle het daardie jare gewoonlik te perd vanaf die plaas, Groenkop tot by Thijsfontein en verder tot by Doorskraal (Later ook Tony se Baai) gery. Hulle het die middag saam met hom gebakte vis by die tent geëet en na ete het by hulle meegedeel dat dit die haai was wat hulle die oggend gevang het. Die manne was hoogs tevrede, want hulle het lekker geëet.

Die deel vanaf die Pomphuis tot by Thijsfontein is in 25 morg erwe verdeel en verkoop. 'n Pad moes gemaak word vanaf die pomphuis tot by Thijsfontein.

Carel van Tonder het 'n man gehad wat 'n pad probeer skraap het vanaf die pomphuis tot by Thijsfontein, maar sonder sukses. My pa is toe genader om die pad uit te lê. Dit was net bos en my pa het toe gaan kyk waar die sandsteen riwwe is en die pad is toe oor die sandsteenriwwe en banke gemaak.

Voor Oesterbaai daar was het ons ook met 'n voetpaadjie deur die bos na die strand geloop. Toe ek nog baie klein was het ons waar die dorpie nou is, 'n sekere tyd van die jaar gaan "gumslaan". Dan het ons takke van die Gum bosse afgebreek wat vol grys bessies was en dan die bessies afgepluk en afgeslaan op 'n seiltjie. Die bessies was oneetbaar, maar dit is bymekaar gemaak en seep gekook in 'n seep pot. Dit was maar 'n dag of twee se uitstappie want die bessies was baie klein. Daarna is die bessies in suikersakkies, huis toe gedra en die bessies is dan in seeppotte tot blouseep gekook.


Pangaljoen (Stinkvis, Butterfish)

“Fish the Sea” webwerf (Kliek hier)

Kaptein se Graf(Skrif daarop.)

This stone marks the Grave of John Reid, Glasgow Scotland,

Captain of the ship Cromartyshire,

who was drowned near this spot on 31 August 1901,

aged 46 years.

Erected to his memory by his widow and family.

Die Lugfoto, van Groenkop waaruit Oesterbaai ontstaan het, was die eiendom van Henry Potgieter.

(Geneem deur Carl van Tonder uit sy Fairchild vliegtuig. Hierdie vliegtuig het later neergestort op die plaas van Louis Hugo. Waar Woodlands Farms vandag is. Die insittendes was Carl van Tonder, wat die loods was en Willem Bouwer, Spook van der Berg en `n jong man Scholtz. Spook van der Berg is oorlede in die ongeluk. Die ongeluk het veroorsaak dat Carel van Tonder, as gevolg van `n rugbesering, meestal bedleënd was vanaf die begin 1960’s)

Later jare het daar finansiële probleme ontstaan met die ontwikkeling en Volkskas se eiendomsontwikkeling tak – Transoranje, het uitkoms gebring en verdere grond is Oos van Oesterbaai aangekoop. Ongelukkig het dit veroorsaak dat die huisies by die Oesterbanke afgebreek moes word, omrede hulle nie aan sekere standaarde voldoen het nie en ook net mondelingse toestemming gehad het vir die oprigting daarvan.

In die beginjare het die vakansiegangers self hulle melk op die plaas kom haal. Later jare het my pa 'n voertuig aangeskaf naamlik 'n Austin Bakkie. Die Afdelingsraad het my pa later beveel om 'n melkstal en melkkamer met wasgeriewe asook 'n waterverkoeler te bou. Die eerste melk is in glasbottels met kartonproppe gelewer. Daarna is die kartonproppe as onhigiënies verklaar, dus moes ander bottels aangekoop word wat aluminium proppe gehad het. Die volgende was plastiek bottels met aluminium proppe wat opgesmelt moes word met 'n spesiale instrument. My pa het vinnig 'n plan uitgedink en 'n swart strykyster en 'n primusstoof het die werk van die instrument gedoen.

Die pomphuis is op 'n later stadium opgerig en die water is van die stroompie wat by die Hek-klip die see inloop, gepomp. In die beginjare is daar gereeld 'n Boeresport dag op Oujaarsdag op die sand tussen die see en die huise gehou. My ma het ook gewoonlik aan die 3 hardloop items deelgeneem. Dit het gewissel van 100 meter, sakresies, eier-resies, visstok gooi en baie ander. My pa, Henry Potgieter, het altyd die naaste aan die pen gewen. Toe Oesterbaai begin uitbrei, het die Boeresport verdwyn.

Die Restaurant is later gebou asook ses grasdakhuisies onder langs die rivier. Die restaurant het etes aangebied vir Kersdag en Nuwejaar asook ander dae op bespreking. Dit was in die dae wat oom Honiball, eienaar van die Restaurant was. Die Restaurant het sy eie kragopwekker gehad vir die ligte en die ander toerusting het met gas gewerk. Die personeel in die Restaurant wat ek onthou, was Gertjie, die kok en Rosy, die kelnerin. Daar het ook 'n man buite in die tuin gewerk, sy naam was Antonie.

My moeder Ella, het ook op 'n stadium in die Restaurant gehelp toe daar 'n krisis met personeel was. Gedurende daardie tyd het oom Honiball eendag aan die kragopwekker gewerk en sy arm en hand het in die meganisme beland en die kombuis binne gekom met sy bebloede arm. My ma het probeer help en het in die bloed op die vloer gegly en haar kop teen die kosyn stukkend geval.

Op 'n stadium het daar ook 'n jong dame, Alna Rautenbach, uit die Langkloof daar gewerk. In die jaar 1964 het die groot sandduin ook die rivier opgedam en een nag het die water deurgebreek en een van die huisies saamgesleur waarin Alna geslaap het. Haar lyk is die volgende oggend op die stand uitgespoel gevind deur mnr. Bert Henderson.

By die Restaurant was ook tennisbane en 'n klein swembadjie. Binne in die Restaurant was daar ook op 'n stadium 'n tafeltennis­tafel en Klavier (Pianola).

Daar word ook beweer dat die opdamming van die rivier veroorsaak word deur plaasdamme, maar ek kan nie sien dat dit die oorsaak is nie, omrede die rivier baie kere tevore ook opgedam is deur die sandduin. Die rivier se inloop die see in het ook met die jare baie gewissel. Die inloop was soms aan die Oostekant van die swemplek en dan het die riviertjie voor die eerste ry huise verby geloop. Daar was ook by tye swemgate op die sand.

Die rivier het ook jare gelede deur die dorpie geloop, jare voor ontwikkeling plaasgevind het.

Al oplossing wat ek vir die opdamming sien, is 'n stormwaterpyp wat 'n honderd meter bokant die huise gelê word tot 'n paar meter by die laaste huise, naaste aan die strand, verby.

Die karavaanpark is ook later ontwikkel, maar daardie jare was dit baie primitief.

Waar die huidige Umzamowethu gebou is, was ook eens 'n inheemse boekenhoutbos.


Dit is Kerstyd op OESTERBAAI  en die gaste is reg om rotse toe geneem word

So is elke familie se vrag na die Oesterbanke vervoer.

Huis van Manie Strydom by die Oesterbanke. Op die foto is Marius, Eric en Nico.

Op pad na Grootbank (Die Punt) vir `n heerlike Kersvakansie!

Ma Ella en Drikkie by die swemplek by Grootbank.

Marie, Drikkie, Sussie, Anri en Anna.

Mnr. H J Moolman met `n Poenskop gevang tydens `n hengelweek.

Voor die Ossewa….

Die Skool Soetfontein. Hier het geslagte skool gegaan. Die onderwyseres was Tannie Maria…..

Op 24 September 1972, het Oom Andries Potgieter, Drikkie se Oom en Pa Henry se broer, by die Oesterbanke gehengel. Hy is die oggend by die huis weg en het genoem dat hy `n ‘dronk kop’ het.

Hy is nooit weer lewendig gesien nie en sy lyk is ook nooit gevind nie. Net sy visgereedskap is op die rotse, baie na aan die see, gekry. Daar word vermoed dat hy `n floute gekry en vooroor in die see gestort het.


Die twee eienaars van die huisies by die Oesterbanke. Mnr. Manie Strydom en Lionel Schonegevel.

Van links na regs is: Duimpie Potgieter, Lionel Schonegevel, Manie Strydom en Henry Potgieter.


Nog `n vloed in die 1990’s

Advertensiemateriaal uitgegee in die ontwikkelingsfase van Oesterbaai……

Trans-Oranje was deur Volkskas Bank beheer en het baie gedoen om Oesterbaai `n hupstoot te gee in die begin jare.

(Veranderinge in die finansiële wêreld het Volkskas gedwing om geleidelik met ’n diversifikasie-beleid belange in verskeie bedrywe te laat verkry. Die bank het die huurkoopveld betree met die aankoop van Trans-Oranje Finansierings- en Ontwikkelingskorporasie Beperk en langtermynfinansiering deur Volkskas Belegginskorporasie Beperk. Volkskas het meegewerk aan die stigting van die Nasionale Bouvereniging wat later met die primêre doel die bevordering van die Afrikaner se belange in die bouverenigingswese met Saambou saamgesnoer het.)

Drikkie met `n groot vis!

Mnr. Henry Potgieter en sy Vrou, Ella, by hul huis op Groenkop.